Welkom …

… by my webtuiste. Ek is so bly jy het die pad gekry. My naam is Martin Steyn. Kom in. Maak jou tuis. Kry vir jou ’n beker koffie of ’n glasie rooiwyn, skop jou skoene uit en kyk ’n bietjie rond. Party van die kamers is nogal donker, maar dis mos hoe ons daarvan hou.

Kom, ek wys jou gou waar alles is. Die deure is almal gemerk. (Behalwe die een wat gesluit is. Ons gaan nie daar in nie.)

Ons begin sommer by BOEKE, want dis mos hoekom jy kom kuier het—vir die stories—en dis waar die grotes is. Dié waarin jy regtig kan wegraak. Ons kan na ’n lokvideo kyk, en terwyl die ligte af is, sal ek in jou oor fluister waaroor die storie gaan en wie die karakters is. En vir jou ietsie aangee om te proe …

Partykeer wil mens net vinnig wegglip. By KORTVERHALE is die stories wat in bundels en tydskrifte verskyn het.

Ek hou van realisme en daarom lees ek graag WARE MISDAAD. Terwyl ek navorsing oor Suid-Afrikaanse moordenaars gedoen het, het ek ook ’n paar artikels vir Crime Library geskryf.

Ek dink die stories is baie interessanter, maar lesers wonder ook oor die persoon agter die woorde. Seker om te sien watse soort mens sulke goed sal skryf. My knipselboek met onderhoude en artikels is in die MEDIA-kamer, en by BIOGRAFIE kan jy lees hoe my skryfpaadjie geloop het.

Teken gerus in op my nuusbrief. Al die ou nuusbriewe is in die Argiewe onder NUUS. ’n Goeie manier om deurentyd op hoogte te bly, is om my Facebook-blad te gaan “like”, want al die nuusbrokkies en interessante gebeure verskyn altyd daar. Twitter is ook nie ’n slegte idee nie.

Ek dink dis dit. Skree maar as jy iets nodig het. O, die vlekke op die mat is net rooiwyn …

m.s.

“Sonder lesers is ’n storie net woorde op papier.”
ENGLISH