As die dood onverwags en gewelddadig kom,
is dit regtig beter om vinnig, sonder lyding, saam te gaan?
Het die meeste mense nie daardie oomblikke nodig
om te bely en vergifnis te vra nie?

Skuldig

Skuldig
Skuldig is die soort boek wat maak
dat mens alles opsy skuif om te lees.”
Maroela Media
Skuldig is met tye ’n genadeloos intense roman
wat die leser se morele kompas
stuk vir stuk aftakel.”
LitNet
Border

Wenner van die 2016 ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur

As die dood onverwags en gewelddadig kom,
is dit regtig beter om vinnig, sonder lyding, saam te gaan?
Het die meeste mense nie daardie oomblikke nodig
om te bely en vergifnis te vra nie?

’n Middeljarige tandarts, tereggestel in sy sitkamer. Teen die muur, een woord. In bloed. Adjudant Colin Menck kyk na die “skoon” toneel en is oortuig dis ’n professionele moordenaar se werk.

Wie het hom gehuur? Die hoofverdagte is die slagoffer se vrou, wat net te onemosioneel oor die moord is. Maar wat het hy gedoen om so ’n dood te verdien?

Minder as ’n week later staan Menck weer voor ’n muur met sewe bloederige letters. Die enigste verbintenis tussen die twee slagoffers is nog ’n ongelukkige vrou, ’n eks hierdie keer, hulle seuntjie ’n twispunt.

Om sake te bemoeilik, het Menck en sy nuwe jong kollega mekaar nog nie regtig gevind nie. Daar is boonop die wrywing met die nuwe ambisieuse groepleier. En iemand uit ’n hoofstuk in sy lewe waarvan Menck eerder wil vergeet.

Hoeveel name is op hierdie moordenaar se lys? Hoeveel mans gaan nog SKULDIG in hulle eie bloed skryf?

“Mens kan nie wag om te sien wat op die volgende bladsy gebeur nie, maar hoop tegelykertyd dat die einde sommer nog ver in die verskiet lê—presies wat mens soek in ’n goeie boek, maar ’n rare talent in ’n skrywer.”
Ilse Salzwedel
Maroela Media
“Hier worstel speurder en leser saam oor die komplekse antwoorde op yslike morele kwessies wat tot die donkerste dieptes van die menslike psige spreek.”
Jonathan Amid
LitNet
“Die deernis waarmee Steyn sy karakters uitbeeld en die helder beeld wat hy skep van die omgewing en die misdade verseker dat ek beslis in die toekoms leestyd sal afstaan aan sy speurtogte.”
Coenraad Walters
Die Burger
Skuldig laat die bladsye onder jou vingers ritsel. Steyn weef ’n web van intrige en net sodra jy vermoed hy het hom in ’n hoek geskryf, gebéúr daar iets.”
JB Roux
Rapport
“Hoe die hoofkarakter met sy vrou en twee kinders omgaan word baie goed oorgebring. Die karakters se liefde vir mekaar is tasbaar.”
Johan Smith
Taalgenoot
Window

Karakters

“Ons het almal ’n donker kant.”
ADJUDANT-OFFISIER COLIN MENCK word as die ondersoekbeampte in die “skuldig”-moord aangestel. Omstandighede by die werk het heelwat verander die afgelope paar maande, en hy sukkel nog om daaraan gewoond te raak. Daar is sy nuwe, jong kollega, Menck se nuwe rol as seniorvennoot, en boonop nog die nuwe groepleier ook. Menck is getroud met Kathy en hulle het twee kinders, Ben en Casey.

“Dink jy mens word goed gebore? Of moet iemand jou leer?”
ADJUDANT-OFFISIER DEREK WINTERS is van die Robertson-speurtak na EGM oorgeplaas. Jonk, nuut—en wit—wil hy homself bewys in die spesialiseenheid waar hy so graag wou wees. En nie die verkeerde soort aandag trek nie. Winters is ongetroud en bly saam met sy jonger suster, Claire.

“Maar jy het darem seker iets positiefs vir ons gebring?”
KAPTEIN FUNDILE LUBAMBO het by kaptein Henz Kritzinger oorgeneem as een van vier groepleiers in die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Bishop Lavis. Die feit dat hy van buite die eenheid aangestel is, krap ’n bietjie aan van die speurders in sy bystandgroep. En die ope geheim dat dit sy ambisie is om die eenheidsbevelvoerder te word, maak nie juis die wrywing minder nie.

“Kry vir my die gun en ek maak hom vir jou vas.”
ADJUDANT-OFFISIER JEROME VLOTMAN—of “Raft” soos hy ook bekend staan—is ’n analis by die Ballistiekafdeling van die Forensiese Wetenskaplaboratorium. As ’n guns vir Menck raak hy vroeg by die ondersoek betrokke, en bevind hom binnekort gereeld in Menck se geselskap. Op nog ’n misdaadtoneel.

Uittreksel

12 Februarie 2015. Donderdag.

Die man lê op sy maag, sy bene effens gebuig, sy kop na links gedraai. Sy linkerarm lê oor sy kruis, sy regterarm langs sy sy. Hy het ’n ligbruin broek aan, donkerder bruin leerskoene en ’n blou hemp. Sy hare is donker, met meer grys as in sy netjiese baard. Die gat in sy voorkop is meer na links, klein en netjies. Rooi strepe loop af tot in die bloedpoel wat in die mat se vesels dik en taai geword het. Sy linkeroog is halfoop, die ander een is verberg in die bloed. Die lug ruik soos koper, en iets chemies—serebrospinale vog.

Adjudant Colin Menck kyk in die rondte. Dis ’n gesinskamer. Donkerbruin leerbanke, redelike groot televisieskerm, DStv-dekodeerder en tuisteaterstel, ingeboude kaggel met ’n reghoek teëls daarvoor, Car Magazine op die koffietafel. Daar is geen teken van ’n struweling nie. Selfs die tydskrif is netjies op die tafel gesit, by die hoek, ewe ver van die twee rande af. Daar is ook geen teken van gedwonge toegang nie. Die enigste bewys van geweld is die liggaam op die mat.

En die bloed.

Menck kyk weer na die man se oop oog. Hoekom het hy nie baklei nie?

“Doppie is nie hier nie.” Die toneeldeskundige van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum staan van sy knieë af op. Hy het ’n blou papieragtige oorpak aan, ligblou papiersokkies oor sy skoene en donkerder blou latekshandskoene. “Rewolwer?”

Menck het net handskoene en ’n paar “sokkies” aan. “Of hy het dit opgetel.” Die toneel het ’n professionele gevoel.

“Gaatjie is so eight and a half, anyway. So dis ’n thirty-eight, three-fifty-seven. Of ’n nine-mil as hy agter hom skoongemaak het.”

“As enigiets gesteel is, is dit nie die obvious goed nie.” Menck kyk om na adjudant Derek Winters, wat met sy arms gevou staan en sy skerp ken in die rigting van die elektroniese toestelle lig.

Menck skud sy kop. “Diefstal was nie die motief nie.”

“Nee, seker nie.” Winters kom nader en kyk na die roomkleurige muur langs die slagoffer.

Soos gewoonlik het hy getrou sy blou CRIME SCENE INVESTIGATOR-toneelbaadjie aangetrek. Menck het vroeg al opgelet Winters is nogal lief vir al die polisieparafernalia.

Dokter Sinette Killian kom die vertrek binne, toneelkissie in die hand. Sy dra ’n oorpak soortgelyk aan dié van die PKRS-deskundige maar wit, haar bruin hare in die wit kappie ingebondel, roomkleurige latekshandskoene en ’n helderoranje toneelbaadjie met FORENSIC PATHOLOGY SERVICES agterop.

Hoe meer deskundiges in hulle korrekte drag op ’n misdaadtoneel verskyn, hoe meer begin dit lyk soos ’n Kersboom wat deur kinders versier is. Hulle kort nog net die kaptein met sy rooi baadjie.

Dokter Killian kyk met opgetrekte wenkbroue na die muur. “Wat het ons hier?”

“Hoekom is dit dat iemand altyd moet doodgaan voor ons jou sien, Dok?”

Sy haal haar skouers op. “Dis al wanneer julle my nooi.”

Menck druk sy lippe teenmekaar en skud sy kop. “Wanneer het óns al ooit vir ’n uitnodiging gewag?”

“Nooit. Maar julle kom net wanneer julle iets wil hê.”

Menck laat sy mond oopval. “Dit sny diep, Dok. Diep.”

Die patoloog lag gedemp, kyk weer na die muur en sak op een knie langs die liggaam neer. “Een inskietwond in die voorkop. Bietjie tatoeëring rondom.”

“Skieter het teruggestaan. Wou nie hê die bloed moet op hom spat nie.”

Sy kyk na die agterkant van die man se kop. “Geen uitskietwond nie.”

“Lyk of die kopwond die enigste skoot was, Dok. Niks in die mure of meubels nie. Netjies.”

Dokter Killian knik. “Hierdie bloed op sy broek,” net onder die kuite, “lyk soos spatsels. Hemp is ingesteek.” Sy lig die man se linkerhand op, bestudeer die vingers en die gewrig. “Geen defensiewe tekens nie.” Daar is ’n diep sny in die regterhand dwarsoor die palm. Bloed is oor sy vingers gesmeer en het ook donkerpers in die hempsmou ingesyfer. “Enkele, skoon snit. Doelbewus gesny.”

“Enige moontlikheid dat hy dit self gedoen het?” vra Menck. “Die vrou kon die vuurwapen en die mes gevat het.”

“Dis nie ’n tipiese skoot vir selfmoord nie. Maar ek kan nie in hierdie stadium sê dis onmoontlik nie. Dit voel egter nie soos selfmoord nie.”

“Nee.”

“Wil jy sy hande toets voor ek dit toemaak?”

Menck knik en roep die PKRS-deskundige nader. “Sal jy vir ons kom toets vir primer residue, asseblief?”

“Ek’s ’n djin in ’n bottel,” sê die deskundige.

“Gin?” vra Menck. “Wat de hel het gin met enigiets te doen? Moenie vir my sê jy drink op die job nie.”

“Djin soos in genie. Aladdin.”

“O. Nou vir wat sê jy nie net so nie, man?”

“Cause why, my dogtertjie is mal oor Arabian Nights, en ‘djin’ is die regte woord.”

“O,” sê Menck weer. Wat mens ook nie alles in die lewe leer as gevolg van jou kinders nie. “Kom genies … djins … nie in lampe nie?”

“Nie op die Flats nie.”

“Ook nie in Christina Aguilera-liedjies nie,” voeg Winters by.

“Wel,” sê Menck, “solank jy net verstaan ek gaan jou nie op ’n snaakse plek vryf nie.”

Die deskundige lag en druk met sy taai stokkies op die dooie man se hande, veral tussen die duim en wysvinger. Vir ontleding moet dit natuurlik al die pad Pretoria toe gaan; Menck sal gelukkig wees as hy die uitslag binne ses weke kry.

“Luister, djin, sal jy saamkom wanneer ek met die vrou gaan praat en haar hande ook toets? En julle sal deur hierdie hele huis gaan en soek vir daardie wapens, nè?”

“Ons sal môre in die dag kom en deeglik deur alles gaan.” Die deskundige glimlag breed. “As ek dit nie mis het nie, was dit mos nou jou three wishes.”

“Ag, hoe’s jou hart, man? Ek het niks eens vir myself gevra nie.”

Dokter Killian skuif ’n bruin papiersak bo-oor elke hand en sit ’n rekkie om die polse om dit toe te hou.

Sy kyk op. “Kan ons hom omdraai?”

Hulle rol die man op sy rug. Die bloed waarin hy gelê het, klou soos stroop aan die regterkant van sy gesig.

“Al sy knope is aan en vasgemaak,” sê dokter Killian. “Ek sien geen ander koeëlwonde nie.” Sy haal ’n skalpel uit en maak ’n snytjie in die man se regtersy. Een termometer onder sy lewer; ’n tweede een meet die omgewingstemperatuur.

Daar is ’n bloedvlek op die man se broek, sien Menck, op die regtersak. Handpalm. Ligte vingers. Nadat hy teen die muur geskryf het?

Want dis duidelik hy het sy hand gebruik om die sewe oneweredige letters, donkerrooi teen die roomkleurige muur, te skryf: SKULDIG.


“Oukei,” sê Menck. Hy loop na een van die uniforms wat eerste op die toneel was, en nou eenkant by die ingang na die gesinskamer staan. “Waar is die vrou?”

“Sitkamer, Adjudant. Dis hier in die gang af, tweede deur links.”

Menck neem die PKRS-deskundige saam en kry die ander uniform daar, asook die slagoffer se vrou. Hulle sit op die bank.

“Mevrou Vorster.” Die vrou kyk stadig op. “Ek is adjudant Menck. Ek is jammer oor jou man.”

Sy kyk net na hom. Ook in haar laat veertigs, netjies aangetrek. Haar rooibruin hare lyk of sy onlangs in ’n salon was. Die skok trek haar gesig styf. Maar haar oë is droog en daar is geen teken dat haar maskara geloop het nie. Sy sit regop, knieë teenmekaar, hande in haar skoot. Haar regterduim vryf haar linkerhand.

“Ek weet dis moeilik maar ek moet ’n paar vrae vra.”

Sy kyk langs hom verby, knik stadig.

“Kan ons iemand vir jou bel? ’n Familielid? Vriendin?”

“Ek het haar dogter gebel, Adjudant,” sê die vroulike uniformbeampte. “Sy is op pad.”

“Oukei.” Menck gaan sit op ’n stoel en haal sy notaboek uit. “Mevrou Vorster, wanneer het jy laas jou man gesien?”

“Vroeër vanaand,” antwoord sy sag. Haar oë is stram, sy kyk afwaarts, verby hom. “Ek is deel van ’n leeskring. Ons kom elke derde Donderdag van die maand bymekaar.” Sy spreek haar woorde baie korrek uit, ietwat te rond.

“Hoe laat het jy gegaan?”

“Kwart oor ses. Ons begin halfsewe.”

“Het jou man iets gesê voor jy gegaan het? Het hy iemand verwag?”

“Nee. Hy het nie veel gesê nie. Ek het vir hom gesê sy lasagne is in die oond. Hy eet op leeskringaande altyd iets van Woolworths.” Sy kyk nog steeds nie na hom nie.

“Het hy die afgelope paar dae enigsins vreemd opgetree?”

“Nie wat ek opgelet het nie.”

“Het hy dalk ’n naam genoem wat jy nog nie voorheen gehoor het nie?”

“Nee.”

“Het hy slaapprobleme gehad?”

“Nie waarvan ek weet nie.”

“Oukei. Hoe het jy by die leeskring gekom?”

“Ek het bestuur.”

“Het jy enigiets opgelet toe jy gegaan het? Iemand op die sypaadjie? Iemand wat in ’n geparkeerde kar sit? Enigiets wat dalk verdag gelyk het?”

“Nee.”

“Het jy gesluit toe jy gegaan het?”

“Ja. Ek sluit altyd. Dit het …” Sy trek haar mond in ’n klein, stywe sirkel. “… Willem soms geïrriteer.”

“Hoe laat het jy teruggekom?”

“So tussen kwart oor nege en halftien.”

“Kom jy altyd daardie tyd van die leeskring af terug?”

“Dis tot negeuur. Soms ’n bietjie later.”

“Het jy by die voordeur ingekom?”

Sy knik. Een keer.

“Was dit gesluit?”

Haar oë beweeg links, effens op. “Ja.”

“Ek weet dis moeilik, Mevrou Vorster, maar sal jy my asseblief vertel wat gebeur het vandat jy by die voordeur ingekom het?”

“Ek het in die gang afgeloop. By die TV-kamer ingekyk. En …” Sy maak haar oë toe.

“Was die TV aan?”

Sy skud haar kop. “Alles was dood.” Haar duim hou op beweeg en sy sluk. “Alles was stil.”

“Was die TV aan toe jy gegaan het?”

Sy knik. “Willem het nuus gekyk. Die Britse kanaal.”

“Is hier enige vuurwapens in die huis?”

“Willem het ’n pistool.”

“Waar word dit gehou?”

“Daar is ’n kluis in ons slaapkamer.”

“Weet jy of dokter Vorster enige vyande gehad het? Het hy enige dreigemente ontvang? Snaakse oproepe?”

Sy skud haar kop.

“Wat van pasiënte? Weet jy van enige pasiënte wat …” Menck word bewus van harde stemme en staan op. “Verskoon my, asseblief.”

Lida Vorster lyk nie of sy registreer wat rondom haar aangaan nie.

Menck loop by die sitkamer uit.

“Dis my huis!” ’n Vrouestem uit die voordeur se rigting.

Hy sien hulle nou, ’n jong vrou en die uniformbeampte wat haar probeer keer en kalmeer. Hoe het sy verby die kaptein geglip?

“Ek is adjudant Menck. Is jy die Vorsters se dogter?”

“Ja,” antwoord sy hard. “Ek is Riëtte. Waar is my pa?” Haar oranjebruin oë is intens en wild.

“Kom saam met my, asseblief. Jou ma is in die sitkamer.”

“Ek gee nie om waar my ma is nie. Waar is my pa?”

“Juffrou Vorster, ek is jammer …”

“Waar is hy!”

“Kom eers saam met my. Asseblief.” Hy raak aan haar boarm.

Sy kom saam maar die wip in haar skouers sĂȘ dis teësinnig. Menck bly aan haar regterkant tussen haar en die ingang na die gesinskamer terwyl hulle in die gang afloop maar sy glip agterom en is verskeie treë die vertrek in voordat hy haar om die middel beetkry.

“Kom, juffrou Vorster, jy wil nie hier wees nie.”

Maar sy skree haar pa se naam en baklei om los te kom. Winters kom nader om te help en sy skop sy notaboek uit sy hand. Dit trek in die lug op en val op die vloer.

“Juffrou Vorster, asseblief, bedaar nou,” sê Menck en kry haar by die kamer uitgetrek.

Sy ruk los, loop met harde treë in die gang af en by die sitkamer in. “Ma is seker nou bly, nè? Ma wou hom mos weg gehad het!”

Menck kom by die sitkamer in, net betyds om te sien hoe Riëtte Vorster ’n blompot optel en na haar ma slinger. Donkerrooi rose en water val uit en die blompot ontplof teen die muur skuins agter die bank. Skerwe, waterdruppels en nog rose spat in verskeie rigtings.

“Uiteindelik het Ma se wens waar geword!” Sy draai om en storm by die vertrek uit.

Lida Vorster sit net op die bank. Sy kyk ’n rukkie na die deur waar haar dogter was, verskuif toe haar oë na ’n punt iewers teen die muur. Die vroulike uniformbeampte se oë is massief en haar mond hang oop.

Menck draai om die dogter te volg. “Toets haar hande,” fluister hy aan die PKRS-deskundige buite die sitkamer en beduie met sy oë na Lida Vorster.


Menck kry haar buite die huis, by die agterdeur uit, waar sy om die hoek teen die muur staan en huil. Sy hou haar met haar regterarm vas, druk met haar linkerhand teen haar oë.

“Juffrou Vorster,” sê hy sag, “ek is baie jammer oor jou pa.”

Sy draai weg.

“Is daar dalk iemand wat ek kan bel om jou te kom ondersteun?”

“Hoe lank gaan hy nog daar lê?”

“Ons maak so gou as wat ons kan,” sê Menck, “maar dis belangrik om deeglik te wees. Mens kry net een kans om dit reg te doen.”

“Wat dan? Wanneer julle klaar is.”

“Wat gaan met jou pa gebeur?”

Sy knik, staan nog steeds met haar rug na hom toe.

“Die patoloog sal ’n outopsie doen. Sy is baie goed.”

“Hoekom moes hulle hom doodmaak? Hulle kon mos net die goed gevat het.”

“Van watse goed praat jy?”

“Die goed wat hulle gestéél het.”

“Juffrou Vorster, ek weet nie of diefstal die motief was nie.”

Sy draai om, haar oë blink in die maanlig. “Wat bedoel jy?”

“Dit lyk nie of enigiets gesteel is nie.”

“Maar … Hoekom het hulle my pa dan doodgemaak?”

Menck kyk na haar in die dowwe lig, die donker hare wat haar gesig omraam, haar nat wange en die twee blink oë wat hom dophou. Sy hou haarself nou met al twee haar arms vas. “Weet jy of jou pa probleme met enigiemand gehad het? Iemand by die werk. ’n Ontevrede pasiënt.”

Sy skud haar kop. “Nee, ek weet nie. Hy het niks gesê nie.” Sy frons. “Bedoel jy iemand wóú my pa doodmaak?”

Het sy nie die woord teen die muur gesien nie? “Dis hoe dit in hierdie stadium lyk.”

Sy maak ’n geluid en druk haar hand oor haar mond.

Menck wag ’n rukkie. “Weet jy of jou pa finansiële probleme gehad het?”

“Nee, hy het nie.”

Hy knik. “Ek is jammer maar ek moet vra. Wat jy vir jou ma gesê het … Ek neem aan daar was probleme tussen hulle?”

Sy kyk weg.

“Hoekom het jy gesê jou ma se wens het nou waar geword?”

“Ek was net ontsteld,” antwoord sy te vinnig. Haar arms is styf gevou en sy hou haar boarms vas; haar vingers druk duike daarin.

“Dis baie keer juis wanneer mense presies sê wat hulle dink of voel.”

Sy sug en trek haar skouers op. “Want sy kan hom al jare lank nie verdra nie, oukei? Want sy het nooit iets goeds oor hom te sê nie.”

“Dis moeilik vir ’n kind as jou ouers probleme het, maak nie saak hoe oud jy is nie.”

Sy kyk weer met nougetrekte oë na hom. Haar gesig ontspan. “Hulle bly al jare lank net saam. Praat net wanneer hulle moet. Slaap nie eens in dieselfde kamer nie.”

“Hoekom het hulle bymekaar gebly?”

“Ek weet nie. Het hy …” Sy byt haar lip. “Het hy gely?”

“Dit was een skoot. Hy is waarskynlik onmiddellik dood.” Al die maniere waarop hy al vir naasbestaandes gesê het hul geliefdes is “makliker” dood en die amper patetiese manier waarop hulle hierdie valse troos aangryp. As die dood onverwags en gewelddadig kom, is dit regtig beter om vinnig, sonder lyding, saam te gaan? Het die meeste mense nie daardie oomblikke nodig om te bely en vergifnis te vra nie?

“Hy was net ’n tandarts,” sê Riëtte Vorster. “Hoekom sou iemand hom wou doodmaak?”

Border
Skuldig

Bestel Skuldig aanlyn en laat dit by jou deur aflewer:

Of kry dit as ’n e-boek:

ENGLISH