Afrikaanse webwerf English website
martin steyn
LAPA

swartval

Die hitte styg soos walms uit die teer van die parkeerarea op tot teen haar wange. Maart is al ’n week oud, maar die somer wil nie laat los nie. Sy loop stadiger en kyk in die rondte, die pepersproei sweterig in haar hand.

Sy sien niemand nie, net motors.

Dis al meer as twee weke van niks, maar sy kom nog steeds van voor af sodat sy die voorruit kan sien. Die ruitveër. Of daar ’n blom is.

Daar is nie. Daar is nooit meer nie, maar sy hou aan seker maak. En dan voel sy simpel dat sy gekyk het. Sy druk die pepersproei in haar handsak en pluk die rits toe.

Dis verby.

Die ou Tazz gaan weer ’n sweetboks wees. Volgende somer sal sy ’n nuwe karretjie met lugreëling hê.

Sy glimlag en lig die sleutel tot by die slot. Iemand het kougom daarin gedruk. Sy begin omkyk net toe die skaduwee oor haar val.

Sy ruk om.

’n Man kyk na haar met klein vaalbruin oë. Hy het net een wenkbrou wat dwarsoor sy voorkop strek. Dis hy, die een wat …

Die mes steel die res van die gedagte. Die lem is groot en blink met ’n growwe grys strook langs die boonste helfte. Die punt is sentimeters van haar borsbeen af.

Sy wil skree, iets doen, maar sy voel lam. Haar liggaam wil nie reageer nie. Haar gedagtes val oormekaar.

Hy vat haar boarm en trek haar na links tot teen die kar langs hare. Lek vinnig oor sy dun lippe. “Maak die deur oop.” Sy asem blaas warm in haar gesig en bring ’n plaakreuk saam.

“Daar is bubblegum in die …”

“Hierdie deur!” skree hy en beduie met sy kop na die ou blou kar langsaan.

“Vat net my handsak. Daar is geld in my beursie.”

“Ek wil nie jou geld hê nie.”

Alles word stadiger. Sy vingers wat om haar arm klamp. Die suur walm van sy sweet. Die oë. Dis die oë van iemand wat nie reg is nie. Dit maak haar banger as die mes wat nou teen haar kuiltjie druk. Daar waar haar hart so hard en vinnig klop.

Hy los haar arm en maak die deur oop. “Klim in. Voor die sitplek. Op jou knieë.”

Dit kan nie die werklikheid wees nie.

“Doen dit of ek sny jou keel af!”

Sy voel die brand toe die punt deur haar vel steek. Daar is niks wat sy kan doen nie. “Oukei. Moenie my seermaak nie.”

Hy het weer haar arm beet en trek.

Terwyl sy omdraai, kyk sy oor die parkeerarea, maar daar is niemand wat haar kan help nie.

Hy druk haar af, een hand agter haar kop, die ander een, die een met die mes, ’n vuis teen haar rug. Die sitplek is agtertoe geskuif en sy pas in op haar knieë. Hy vat haar handsak en die sak met haar kostuum en gooi dit op die agterste sitplek. Daar lê ’n verbleikte olyfgroen duvet met vlekke op en hy trek dit vorentoe.

“Lê plat!” Hy druk haar kop sodat haar wang en mond teen die mat druk.

Sandkorrels krap haar lippe en klou daaraan vas. Hy trek die duvet oor haar en maak die deur toe.

Sy ruk regop, onder die duvet uit, en sukkel om na die handvatsel toe te draai.

Die bestuurder se deur gaan oop.

Haar vingers is by die handvatsel toe die mes teen die kant van haar nek druk. Dis ’n harde, dun lyn teen haar vel.

“Asseblief, laat my gaan. Ek sal vir niemand sê …”

“Bly stil.” Hy trek haar aan haar hare terug, dwing haar plat en trek die duvet weer oor haar.

Die enjin skakel aan en die kar vibreer onder haar. Hy trek agteruit.

Sy sweet onder die duvet. Haar brein jaag net soos haar hart. Dis hy. Die een wat die blomme op haar kar gelos het.

Hy het teruggekom.

En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie, hy het gekom om iets te vat.

boontoe
HTML5
kopiereg © 2017 deur martin steyn
alle regte voorbehou