Afrikaanse webwerf English website
martin steyn

biografie

martin steyn
Martin Steyn

Ek kan ongelukkig nie sê ek was van kleins af lief vir lees nie, maar ek was lief om storielyne uit te dink, of dit nou Lego, mannetjies, karretjies, houtgewere of sommer net my verbeelding was. Ook maar goed, want met net ’n suster van amper tien jaar ouer en sonder vandag se magdom tegnologie, moes ek gereeld myself vermaak.

Toe ek 15 was, het ek ’n boek van Stephen King by die dorpsbiblioteek uitgeneem. Ek was lief vir gruwelprente—ek en ’n vriend het gereeld die Nightmare on Elm Streets ná skool gaan uitneem—en ek het Stephen King se naam van ’n paar van sy flieks af geken. Ek is huis toe met The Dark Half. Hoekom, kan ek nie meer onthou nie; miskien was dit die enigste een op die rak. Maar dit was dit. Die volgende twee, drie jaar het ek so te sê uitsluitlik Stephen King se boeke gelees.

Dit was terwyl ek IT gelees het wat die skryfsaadjie in my ontkiem het. My eerste storie was “Vengeance”, 26 handgeskrewe bladsye en ’n pot waarin ek alles van duiwelsaanbidders tot ruimtewesens bymekaar geroer het. Dit was nie besonder wonderlik nie, maar ek was verlief. Ek het nog kortverhale geskryf, almal gruwel- of bonatuurlike stories, en party was nie te sleg nie. ’n Droom is so stilweg gebore: ek wou ’n skrywer wees.

martin steyn

Ek het eers ná skool in Afrikaans begin skryf. Sommer net. Uit nuuskierigheid. En toe skryf ek so lekker, die storie word my eerste vollengte roman. Dit was ook nie besonder wonderlik nie, maar ek het ontdek hoe lekker dit is om in Afrikaans te skryf—veral dialoog—én dit was ’n bewys dat ek ’n hele boek kan skryf. Dit lyk soos ’n verskriklike hoeveelheid bladsye om vol te maak wanneer jy dit die eerste keer aanpak.

Intussen het ek ’n fassinasie met reeksmoordenaars ontwikkel. Vampiere was altyd my “gunsteling” gruwelkreatuur, so dit was seker onvermydelik. Die groot verskil is natuurlik dat reeksmoordenaars bestaan. Hulle beweeg tussen ons. Hulle lyk soos ons. Mense soos Jeffrey Dahmer en Ted Bundy was vir my geweldig interessant. Ek wou weet hoekom hulle so word. En dis toe ek ware-misdaadboeke begin lees het.

Natuurlik sou ek oor reeksmoordenaars begin skryf. Ek het Sielkunde en Kriminologie deur Unisa studeer. Sielkunde was ongelooflik interessant en ek het tot by honneurs gegaan. Daarna het ek my eerste misdaadroman geskryf. En toe besef om gepubliseer te word, is nie so maklik nie . . .

Die Maar Jare. Keurverslae wat met mooi woorde begin tot by die onafwendbare “maar”. Die wending. En nooit ’n goeie een nie.

martin steyn
Die storie is groter
as die skrywer

Toe sien ek ’n skakel na die South African Writers’ College. Ek weet nog nie hoe Google daarby uitgekom het nie, want ek het iets heeltemal anders gesoek. Die Skryf ’n roman kursus trek my aandag. Ek hou veral van die idee dat jy saam met elke module ’n gedeelte van jou storie aan die tutor stuur. En so kom ek by Wilna Adriaanse.

Ek begin skryf aan my nuwe roman vir die kursus. Die hoofkarakter is ’n middeljarige speurder wat ’n bietjie afgeleef is en die moorde op tienermeisies moet ondersoek. Ek noem dit solank “Donker Spoor”. Wilna is uiteindelik ’n wending in my skryfwerk. ’n Goeie een. Haar raad en hulp en streng leesoog maak ’n groot verskil. En haar ondersteuning hou nie saam met die kursus op nie; sy bly in my manuskrip glo.

“Skryf is herskryf,” het een keurder in ’n verslag genoem, “skryf is deurgaan en regmaak.” En die manuskrip is deur ’n paar weergawes. Uiteindelik pos ek dit aan LAPA Uitgewers en dit beland op Cecilia Britz se lessenaar. En op ’n dag in 2013, wat maar nes die meeste ander begin, kry ek ’n e-pos van haar. En my droom word waar.

boontoe
HTML5
kopiereg © 2017 deur martin steyn
alle regte voorbehou