“What a miracle it is that out of these small, flat, rigid squares of paper
unfolds world after world after world …”
Anne Lamott
Hierdie kamer is my gunsteling. Ek is lief vir al my stories, nuwes en oues, goeies en slegtes, langes en kortes, maar daar is net iets aan ’n roman, ’n storie van in die honderdduisend woorde, waar jy regtig die karakters leer ken, waar jy regtig in die wêreld kan wegraak.
In die laat-90s was daar ’n polisiereeks, Homicide, Life on the Street, oor die speurders van die moordeenheid in Baltimore in die VSA. Ek het nooit ’n episode gemis nie en dit het my baie beïnvloed toe ek daaraan begin dink het om misdaadstories te skryf. Eerder as om myself aan een reekskarakter te bind, wou ek ook met ’n groep karakters werk. Toe ek destyds begin navorsing oor die Suid-
Ongelukkig is EGM, soos baie van die SAPD se spesialiseenhede, intussen ontbind. Van die begin af was my mikpunt om realistiese misdaadstories te skryf: realistiese misdadigers, realistiese speurders en realistiese polisieprosedures, soos die ware-
“[A homicide detective is] entrusted with the pursuit
of that most extraordinary of crimes:
the theft of a human life.
You speak for the dead.”
David Simon, Homicide, A Year on the Killing Streets
Intussen het ek ook oor ’n paar ander polisie-
Maar kom, kyk ’n bietjie rond, kyk net daardie voorblaaie—dit maak my sommer van voor af opgewonde. Kies ’n boek en dan vertel ek jou meer. Ek is nou die soort leser wat daarvan hou om voor te begin, maar ek oordeel nie. Elke boek gaan oor ’n spesifieke saak en kan op sy eie gelees word.
Donker Water
Uitgegee deur LAPA, 2024
Die konsep van ’n boek oor die polisieduikers rol al in my kop rond vandat ek met die bevelvoerder van die Duikeenheid gaan praat het vir Swartval. Of vir die storie wat later as Swartval herskryf is, want in die oorspronklike weergawe was daar ook ’n polisieondersoek waar die duikers in ’n stadium na Claire in die water in ’n steengroef soek. Ek raak gewoonlik meegevoer wanneer ek met lede van die SAPD praat, maar toe die kaptein my ná die onderhoud na die stoor toe vat om hulle toerusting te wys, kom sluit van die ander duikers by ons aan en begin stories vertel. En ek het geweet ek gaan moet terugkom en ’n boek oor hulle skryf.
Donker Water is ’n bietjie anders as my ander boeke omdat dit uiteindelik nie regtig my idee of storie is nie. Dis die duikers se stories wat ek saamgeflans het in twee jong konstabels se reis om by die duikeenheid aan te sluit.
Losprys
Uitgegee deur LAPA, 2018
By Karin Brynard se bekendstelling van Tuisland het ek ’n afgetrede gyselaaronderhandelaar ontmoet. Ek het gevra of ek hom in die toekoms kan kontak, want die idee van ’n onderhandeling was onweerstaanbaar. Maande later ontkiem twee ouerige Kaapse sake wat jare lank in my onderbewussyn gelê het. Die een was ’n Nederlandse seun wat in 2003 deur twee buitelanders vir ’n losprys ontvoer is. En die ander was die inspirasie vir iets wat by adjudant Karla Blanckenberg spook …
Ek hou daarvan om te gaan loop waar my stories afspeel. Ek wil die lug ruik, die geluide hoor, die plek in sy glorie of verval sien. Dit gee die storie ’n meer realistiese gevoel en dit maak natuurlik beskrywings baie makliker, maar dis interessant hoe gereeld die omgewing die storie beïnvloed. Ek het Llandudno gekies omdat dit ’n eksklusiewe, ryk area is waar ’n skatryk Amerikaanse gesin sal vestig. Langsaan is Houtbaai, ’n “republiek” met soveel karakter, van die hawe en die berge tot die mark wat die inwoners van Imizamo Yethu op die polisiestasie se sypaadjie opslaan. En soos die sand het Houtbaai sommer vroeg by die storie ingesyfer.
Swartval
Uitgegee deur LAPA, 2016
’n Hele boek uit ’n vrou se perspektief? Is jy nou heeltemal kêns?
Waarskynlik, want ek het onder andere ook ’n week lank valsnaels gedra, my kop geskeer en myself met pepersproei gespuit … (Die pepersproei sal ek vir niemand aanbeveel nie, maar as die vervaardigers van Liquid Bullet my wil aanstel om hulle produk te onderskryf, kontak my deur die koevertjie onderaan die bladsy.)
Swartval is die boek wat my die meeste geraak het. In Donker Spoor en Skuldig het ek saam met die speurders op die toneel gekom nadat die misdaad gepleeg is; in Swartval was ek in die slagoffer se kop terwyl die misdaad gebeur. Die manuskrip is oor ’n baie korter tydperk as gewoonlik geskryf en ek het ou Sepultura en Slayer uit die 90s gaan opdiep en oor en oor daarna geluister om in daardie donker, bykans hopelose gevoel te kom waarin Claire vasgevang is. Dit was ’n intense, afgesonderde, kloustrofobiese skryf, wat ideaal was vir die storie.
Skuldig
Uitgegee deur LAPA, 2015
Skuldig is steeds my gunsteling idee. Daardie prentjie van ’n man wat SKULDIG in sy eie bloed teen die muur skryf, sy asem wat jaag, fluisterwoorde wat smeek, hoe hy kniel, hoe ’n pistool se loop na sy voorkop mik, die gedempte skoot, die koeëldoppie wat op die teëls hop … Dit was pragtig.
Dit het net vanself in my kop oopgevou. En die hele ding was daar: die wie, wat, hoe, hoekom. Dit was soos ’n inkleurboek waar amper al die prentjies klaar geteken was, ek moes net gaan inkleur. Dis nie hoe dit gewoonlik vir my is nie. Ek begin altyd met die misdaad en/of die moordenaar en ek moet van die begin af weet wie dit is, wat hy doen en hoekom hy dit doen. Soms het ek ’n flits hier en daar, maar dis selde dat ek weet wat in die volgende hoofstuk gaan gebeur. My stories ontwikkel soos wat ek skryf. Dis deel van die lekker daarvan, om die storie te ontdek. (Dis hoekom dit van kritieke belang is om van die begin af die misdaad en misdadiger deeglik te verstaan, want anders sal ek nie die pad kry nie.) Skuldig was die uitsondering. Selfs die einde was soos ek dit aan die begin gesien het.
Donker Spoor
Uitgegee deur LAPA, 2014
Donker Spoor het natuurlik ’n ekstra spesiale plekkie in my hart, want dit was die eerste een. Nie die eerste manuskrip nie, maar die eerste een om gepubliseer te word. Wat ’n boek geword het. Ek onthou nog die oomblik toe ek die boksie oopmaak en die eerste kopie in my hande vashou soos gister …
Oukei. Ek is terug. My idees begin altyd by die misdaad. In Donker Spoor se geval kom dit van ’n regte reeks moorde af. Ek het ’n artikel daaroor op Crime Library gelees en toe die boek oor die saak in die hande gekry. Dis seker eintlik steurend om opgewonde te raak oor sulke goed, maar die saak het my gefassineer en ek wou my eie storie daaroor skryf. Die moordenaar in Donker Spoor se persoonlikheid en fantasie is grootliks gebaseer op die regte moordenaar (alhoewel hy nie sy slagoffers gehang het nie). Die verloop van die storie is egter baie anders.
Ou Mags. Ek en Mags het ’n lang pad saam geloop tot ons hom uiteindelik in druk gekry het. Ek het eintlik in ’n stadium opgegee op hom, maar soos enige goeie moordspeurder het Mags nie laat los nie.