Dis altyd asof daar ’n lig in ’n ouer uitdoof
wanneer ’n kind vermoor word.
Donker Spoor
“Steyn se karakterisering is uitmuntend.”
Rapport
“Hier is ’n digverweefde tapisserie
wat geleidelik vir die leser oopgevou word.”
LitNet
Wenner van die 2015 ATKV-Woordveertjie vir Spanningslektuur
Dis altyd asof daar ’n lig in ’n ouer uitdoof
wanneer ’n kind vermoor word.
Hulle kry haar ontbindende liggaam in die veld. ’n Tiener. Sy is verkrag en gemartel. Uiteindelik gehang. Sy is nie die eerste een nie.
Adjudant-
Daar is meer vrae. Die polisie se onmag om die gemeenskap teen hierdie boosheid te beveilig haal hoofopskrifte. ’n Ma se hartverskeurende brief verskyn in die koerant. ’n Pa wil ’n beloning betaal.
En telkens beland die soektog op ’n dwaalspoor, wat nog boosheid oopvlek.
“Steyn is in voeling met die genre—hy weet presies hoe om spanning te fabriseer, hoe om sy karakters eg en oortuigend te skets, hoe om die leser enduit te boei met ’n roman wat by tye besonder grieselrig en ontstellend is.”
Jonathan Amid
LitNet
“Die humor is skerp en is veral te vinde in die dialoog tussen Mags en Menck.”
Nadine Hamman
Tydskrif vir Letterkunde
“Steyn het die vermoë om die leser te laat voel of hy saam met die twee speurders in die polisievoertuig ry en al die frustrasie en ontnugtering saam met hulle beleef in ’n grys, droewige, nat Kaapstad.”
Johan Smith
Rapport
“A dark, intriguing, and satisfying tale with strong characters.”
Kirkus Reviews het die Engelse vertaling, Dark Traces,
’n “starred review” gegee.
“Dark Traces is fascinating and compelling for its unfamiliar—at least, to most American readers—setting, its well-drawn and sympathetic characters, and the totally believable psychopath whose vicious murders are at the center of the plot.”
D.R. Meredith
New York Journal of Books
“Martin places a premium on realism, and it shows in the book. But his character study of his protagonist, Jan Magson, and the people caught up in the killer’s wake are riveting.”
Michael Sears
The Big Thrill
Karakters
“Ek wil nie nog ’n meisie se foto teen die muur vassit nie.”
ADJUDANT-
“Ek mis die negentigs. Mens kon rook in die negentigs.”
ADJUDANT-
“Wat ons nodig het, is bewyse. Iets konkreets.”
KAPTEIN HENZ KRITZINGER is een van vier groepleiers by die Ernstige Geweldsmisdaadeenheid in Bishop Lavis. Tans is daar tien speurders in sy bystandgroep. Die naweek toe die meisie se liggaam naby Durbanville ontdek word, is sy groep op bystand.
“Woede of sadisme, hy was rof met haar.”
DOKTER SINETTE KILLIAN is ’n forensiese patoloog verbonde aan die Universiteit van Kaapstad en die Forensiese Patologielaboratorium in Soutrivier. Dit is die besigste lykshuis in Suid-
Uittreksel
“Nog ’n Sondagmiddagete saam met die gesin opgeoffer vir bloed en maaiers,” sê adjudant Colin Menck langs hom. “Ons het darem maar ’n lekker job, hè, Mags?”
Agter die stuur reageer adjudant Jan Magson nie. Hy volg net die langsame kronkeling van die Vissershok-
“Casey het ’n hele campaign begin om ’n perd te kry vir haar verjaardag. Volgende jaar, wanneer sy tien word. Want dis ’n spesiale verjaardag.”
Magson kyk vlugtig na die perde wat teen die houtheining uit die kamp staan en kyk. ’n Entjie verder, aan die ander kant van die pad, is ’n bordjie wat die afdraai na die Meerendal-
“So ek praat al weer met myself vandag.”
Partykeer is Menck soos ’n kind wie se mond heeltyd moet oop- en toegaan.
“Ek het sleg geslaap,” sê Magson.
“Ek vra nie baie nie. ‘Ja’. ‘O’. Selfs ’n grunt sal doen.”
Magson kyk in die truspieëltjie. Die pad is leeg, maar hy kyk ’n rukkie langer. Die Corolla se stowwerige spieëltjie maak sy oë nog ’n valer groen. Lyne op sy voorkop. Krake om sy oë. Hare trek al hoe meer terug bokant die slape. Snor is ook al meer grys as bruin.
Hy kyk weg.
’n Ent verder staan twee klagtebakkies en ’n paar ongemerkte voertuie langs die pad. Geen huise in die ligbruin omgewing nie. Magson hou stil en skakel die enjin af. Hy en Menck klim uit. ’n Uniformbeampte kom hulle tegemoet. Hulle wys hulle identifikasiekaarte.
Die uniform knik. “Adjudante. Sy lê ’n hele ent in.” Hy beduie met al vyf vingers reguit.
“Was jy eerste op die toneel?” vra Menck.
“Ja, Adjudant.”
“Wie het haar gekry?”
“’n Voëlkyker.”
“Is hy nog hier?” vra Magson.
“Dit was ’n vrou, Adjudant,” sê die uniform en kyk nou na hom. “Ek het haar gehou tot die eerste speurder ’n verklaring afgeneem het. Hy het haar laat gaan toe hy klaar was. Ek het haar details.”
“Dis goed. Is kaptein Kritzinger by die liggaam?”
“Ja, Adjudant.” Hy haal sy blou pet af en krap die klam kroese met die vingers van dieselfde hand.
“Orraait. Vat ons na hom toe.”
“Wag,” sê Menck, “ek kry gou jou borslappie.”
“Solank jy weet jy gaan die ding heeltyd moet vashou,” brom Magson. “Want ek gaan dit nie aantrek in hierdie hitte nie.” Die temperatuur is net ’n deel van die rede—
“Dit bring jou oë uit, man,” sê Menck met ’n glimlag wat sy tande wys.
“My oë is groen.”
Hulle loop tot by die doringdraadheining wat die pad al langs die skouer volg. Magson sien geen tekens van roes of verwaarlosing nie, maar hier waar die voertuie staan, lê vier van die houtpale plat.
“Ek neem aan dit was so?”
“Ja,” sê die uniformbeampte.
Hulle volg hom deur die opening. Geen motorspore nie. En die gaping is te klein vir ’n voertuig om deur te kom. Het die slagoffer geloop? Of is sy gedra?
Die heuwelagtige omgewing lyk alles dieselfde; bruin en dood soos die lang gras wat in die loop teen sy grys broekspype ruis. Behalwe vir ’n kronkeling riete wat waarskynlik ’n stroompie volg. In die verte is daar ’n paar bloekombome. Die lug is droog en die reuk laat hom aan rissies dink, die vlokkies waaraan Menck hom altyd laat ruik. Sweet kriewel in sy nek af en hy wonder hoe ver die liggaam nog is.
Hulle kom oor ’n heuwel en Magson sien die mense. Lede van die Plaaslike Kriminele Rekordsentrum het al die toneel begin dokumenteer. Kaptein Henz Kritzinger is in gesprek met ’n groepie mense, waarvan een die forensiese patoloog is; sy staan uit soos ’n kinderpleister in haar wit oorpak en die helderoranje moulose baadjie waarop daar FORENSIC PATHOLOGY SERVICES staan.
Kaptein Kritzinger trek sy gesig. “Doen maar wat julle kan.”
Die PKRS-
“Kaptein,” groet Magson.
“Die dokter dink ons het ’n probleem.”
“Sy het al redelik begin ontbind in dié hitte,” sê dokter Sinette Killian en vee ’n voortvlugtige bruin haarlok van haar voorkop af, “maar al die tekens dui daarop dat sy gehang is.”
“Geháng?” vra Menck. “Ek kan nie onthou dat ons al ooit ’n hangmoord gehad het nie.”
“Ek kan.”
“Dis die probleem,” sê Kritzinger.
“Daar was ’n meisie, so September, Oktober laas jaar, dink ek, November dalk,” verduidelik dokter Killian. “Daar was tekens van seksuele aanranding. Sy was ook geklee, maar haar onderklere was weg.”
“Maar sy was nie ons s’n nie,” sê Menck.
“Ek kan nie onthou wie die ondersoekbeampte was nie, maar sover ek weet, is die dossier nog oop.”
Twee vir die prys van een, dink Magson. Fantasties.
Die liggaam lyk soos dié van ’n tienermeisie. Sy is geklee in ’n kortbroek en ’n wit toppie met spaghettibandjies, maar haar voete is kaal. Haar maag is styf opgeblaas van gas en die vel wat uitsteek, is bruingeel met donkergroen vlekke. Daar is heelwat maaieraktiwiteit, party daarvan al redelik groot. Dik donker vloeistof het uit haar neus en mond geloop. Die reuk—
Dokter Killian sak op haar knie langs die liggaam neer en draai die meisie se kop versigtig van hulle af weg. Haar geswolle gesig lyk nie goed nie; die eerste golf brommerwyfies het haar oë, neus, mond en ore geteiken om hul eiers te lê. Maar dis duidelik uit die dik donkerbruin poniestert dat sy ’n mooi bos hare gehad het. Daar is ’n verkleurde voor wat plek-plek om haar keel en nek sigbaar is, ten spyte van die maaiers se werk.
“Die voor is hoog hier teen die keel,” wys die patoloog. “Dan gaan dit skuins op langs die kante van die nek na agter.” Sy kyk op na Magson en trek haar oë op skrefies teen die son. “Dis waar die knoop sou wees.”
Hy loop om die liggaam en gaan hurk aan die ander kant. Brommers vlieg nog rondom haar, gaan land en styg op. Die maaiers vreet asof hulle weet hulle tyd is amper verby. Die meisie se klere is nie geskeur nie. Alles is waar dit behoort te wees. “En jy sê dit lyk soos die vorige een, Dok?”
“Ek sal eers die post mortem wil doen en deur my verslag oor laas jaar se geval wil gaan, maar moordslagoffers wat gehang word, is geweldig skaars, soos julle self weet. Wanneer iemand gehang is, is dit eintlik altyd selfmoord. Dit sal baie toevallig wees as dit verskillende moordenaars is.”
“Toeval,” sê Magson. “Nie sommer nie. Hoe lank skat jy lê sy al hier?”
“Miskien so vyf tot agt dae.”
Hy sit sy hande op sy knieë en stoot hom orent. Al sy skarniere kort Q20. Linkerknie kort eintlik nuwe onderdele.
Menck kyk in die rondte. Hy vryf oor sy kort donkerbruin hare, oor sy snor en bokbaard. “Dis ver na daardie bome toe. As sy daar gehang is, hoekom haar al die pad hiernatoe bring?”
Dokter Killian staan ook op. “Daar is ook tekens dat sy vasgebind was.”
“Maar hy het haar losgemaak,” sê Magson. “Seker ná die tyd. Geen toue saam met die liggaam gelos nie.”
“Voel meer soos ’n dumpplek,” sê Menck.
“Wat is die voëlkyker se storie?”
“Sy het die een of ander voël gesien en vir haar man gesê om stil te hou,” sê kaptein Kritzinger. “Uitgeklim en al die pad agter die ding aangeloop met haar verkyker en voëlgids. Haar man sê dis die storie van sy lewe.”
“En toe kry sy die meisie.”
“H’m. Ek dink nie die man gaan gou weer vir ’n voël stilhou nie.”
Menck gee ’n laggie.
Magson kyk terug in die rigting van die pad, al kan hy dit nie oor die heuwels sien nie. “Ek wonder oor die heining.”
“Het hy dit gebreek,” vra Menck, “of dit so gekry?”
“PKRS sal in elk geval daarna kyk,” sê Kritzinger.
“Hang,” sê Magson terwyl hy weer na die lelike voor in die meisie se nek kyk. “Dis nie net ’n manier om iemand dood te maak nie. Dis ook ’n vorm van teregstelling.”